Bydraes

Julle kan nou ook jul eie bydraes plaas onder LESERS BYDRAES of somer net KLETS...
LET WEL: Alle bydraes in Afrikaans, asseblief!

Friday, May 6, 2011

Die Hoenderresep

Een van my kleindogters stuur vir my so op ‘n dag ‘n hoender resep... ‘n flater vrye hoender resep wat sommer vir jou aandui wanner die hoender regdeur gaar is.  Kyk, as daar nou een ding is wat die oom verpes, dan is dit ‘n half-gaar boudjie...

So probeer ek toe die reseppie, maar aangesien dit die dag voor Krismis is, besluit ek om die resep aan te pas vir die kalkoen.  Ou Jantjie, die plaaswerker en die oom se regterhand, het vir my die vorige dag kalkoen gevang en voorberei.  Dis nou net vir stop ek kruie en dan is hy reg vir die buite-oond.  Dis reg... die buite-oond.  Ek bak nog elke dag van my lewe brood in die buite-oond en vandag is dit die kalkoen se beurt.

Die vuur is gemaak en die kalkoen is in die oond.  Jantjie se vrou, wat my kombuis-hulp is moet vir my ‘n wakende oog oor die oond hou en so elke halfuur gaan luister of die vulsel nog nie begin aandui het dat die kalkoen gaar is nie.  Nou kyk, met ‘n buite-oond werk dit so... jy maak nie elke vyf minute die deur oop nie anders verloor die oond hitte.  Met die brode weet ek al goed wanneer hulle gereed is om uit te kom en Sarah ken ook al die storie.

Wel, ons wag en wag en wag... na ‘n halfuur is daar nog geen roering in die oond nie en die springmielies in die kalkoen se binneste is doodstil.  Sarah kom na ‘n uur se gewag in woonhuis toe om vir my te kom sê dat sy nog geen poef-poef geluid gehoor het in die kalkoen se magie nie.  Sy hou kort-kort haar oor by die oond se deur, net om seker te maak.  Ek sê vir haar dit beteken dan seker dat die hoender nog nie gaar is nie.  Die resep sê, as die hoender se hol ontplof en by die deur uit vlieg, dan is die hoender gaar.  En dit geld seker vir die gestopte kalkoen ook... dit neem seker net langer, want ‘n kalkoen is baie groter en mens... dit was ‘n moeviese kalkoen!

Ek bel, net om seker te maak, die kleindogter en vra haar of sy al die resep probeer het.  Sy bars uit van die lag, sy skree soos sy lag.   Sy’s histeries en dit klink of sy nie kan asem kry nie en ek begin al oorweeg of ek nie die foon moet aflui en eerder ‘n dokter moet ontbied nie, want die kind is besig om haar dood te lag.  Wat vir my voel soos ure later, sê sy : “Ouma, daai was ‘n grappie, nie ‘n regte resep nie.”

“My gedorie...!  Hoe bedoel my kind nou?”


Na ‘n lang verduideliking, skud ek net my kop.  Ek was dan seker dat die sodanige grap, ‘n resep is.  Dit het dan vir my gelyk na ‘n briljante resep, nie ‘n vervloekte grap nie! Nou dat ek daaraan dink, dit was nogal komies... veral as ek in my verbeelding kon sien hoe vlieg daai hoender by die buite-oond se deur uit dat jy net spaanders sien trek...

Ek gil vir Sarah dat sy die oond se deur dadelik moet oopmaak.  Die kalkoen was so effe aangebrand, maar nog eetbaar.... maar die vulsel... nie eers die werfhonde wou dit hê nie...  Oompie se mond is dik, want die kruievulsel was nog elke jaar sy gunsteling en daardie jaar was dit net ‘n kalkoen met ‘n maag vol mielies... Oneetbare mielies!


Die vervloekte resep....

GEBAKTE GESTOPTE HOENDER

2,7 tot 3,5 kg hoender
½ koppie gesmelte botter
1 koppie stopsel
1 koppie ongekookte popcorn
sout en peper na smaak

Voorverhit oond tot 180°C. Smeer hoender goed met gesmelte botter, sout en peper. Vul hoender met stopsel en popcorn. Plaas in oondpan met nek na voorkant van oond.

Luister vir pop geluide.....!

Wanneer die hoender se hol ontplof, die oonddeur oopskiet en die hoender deur die lug vlieg, kan jy weet die hoender is gaar!!

Gedink ek weet niks van kook nie, nè?

Liefde, Leila