Die grootste gatslag vir vroue van my ouderdom, was die dag toe die aantreklike Rock Hudson aan daai gevreesde Strikkie-griep oorlede is. Mens, hoe hyg ek nou sommer weer as ek aan hom dink… Menige vrou sou nie omgee as hy sy skoene onder haar katel sou ingeskop het nie. Ja wat (sug), toe gaan loop en skop hy skoene onder die manne se katels in, so in die geheim….
Alhoewel hy eens op ‘n tyd getroud was en later van sy vrou geskei het, het niemand eers vermoed dat hy een van die "agter spelers" is nie. Die het eers na sy dood op die lappe gekom… en so was dit ook met James Dean. Liberache, het ek geweet dat hy meer muis as man was, of was dit meer vere as pelsjasse…. maar niemand het gewaag om iets te sê nie, want ou Lee het hard gestry dat hy maar net ‘n bietjie eksentriek is. Ek weet van kere wat hy koerante gedagvaar het omdat hulle beweer het hy is …. uhm…. “agterbaks”.
Maar die grootste gatslag en teleurstelling was die dag toe Nefie sommer so uit die bloute aankondig hy’s ‘n fiefie… Tik my om met ‘n veer! As familie sien mens mos nie die dinge raak nie, of liewer, mens wil dit nie raaksien nie. Al die tekens was daar! Hoe ek so blind kon wees om nie te sien dat daar ‘n bok in my skaapkraal was nie, gaan my verstand te bowe. As kind wou hy opslag met my dogter, Klein Dorie se poppe speel en het ure saam met my en Sarah in die kombuis deurgebring. Van saam met my seun, Pieterjan seunsdinge doen, wou hy van niks af weet nie. Hy maak eerder sy hande vuil met deeg en besmeer sy gevreet met meel voordat hy ‘n masjien ghries of olie...
Ek troos my darem daaraan dat hy gelukkig nie gaan staan en trou het net om die familie tevrede te stel nie… O genadetjie! En daar skiet die vrees-gedagte my te binne...Dalk trou hy een van die dae soos Elton, met ‘n man! Dit sal nie deug nie, sy oorlede vader sal so vinnig in sy graf draai dat sy gebeentes hul binnekort uit die aarde sal woel. Ek moes met dominee praat dat hy so ‘n bietjie Nefie kan beraad, dalk is daar ‘n gebed wat mens kan doen om die saak om te keer…
En so was daar toe vir Nefie gebid en beraad, maar die ding kom nie reg nie. Ek besluit toe maar om Nefie self onder hande te neem en om te kyk of ek nie dalk die situasie kan verander nie. As ek dan nou nie sy voorkeure kan wysig nie, dan kan ek hom seker daarop attent maak dat dit die rede is waarom Sodom en Cremora gedoem was. Ek vertel toe vir hom so mooi ek kan waar Dawid die wortel begrawe het... of nie begrawe het nie. Dat dit sonde is in die oë van onse Vader is dat ‘n man saam met ‘n man lê soos hy met ‘n vrou sou lê... dat die Vader ‘n Adam en ‘n Eva geskape het en nie ‘n Adam en ‘n Stefaans nie!
Nou ja, ek het my asem gemors.... en Nefie.... Hy’s so effe vies vir my, want hy sê alhoewel hy van mans hou, het hy nog nooit by een gaan lê nie. En mens kies nie vir wie jy lief is nie, maar jy kan besluit hoe jy jou liefde wil betoon. Hy gaan selibaat bly en sy goeters uit gate en sy gate uit goeters hou en die man wat ‘n verhouding met hom wil hê, sal dit so moet aanvaar, want hy gaan nie dat die duiwel hom eendag in die hel rondjaag net omdat hy nie sy luste in bedwang kan hou nie.... GEDORIE WAAR... daar het ek dit nou!
NS: Antie keur nog nie hierdie fiefie-geit goed nie, maar ek is trots op jou dat jy jou nie oorgee aan die luste van die vlees nie...
Hierdie storie is nie om die spot te dryf met mense wat "anders" is nie. Dit is bitter moeilik vir ouers en familie om te aanvaar as 'n familielid uit die "kas klim". Dit is selfs moeiliker vir die betrokke persoon om te herken dat hy/sy voorkeure het wat vir die normale persoon nie aavaarbaar is nie. Ek ken mense wat al selfmoord oorweeg het en dan ook hul eie lewe geneem het, as gevolg van familie en vriende wat hulle verwerp het. Ek praat dit nie goed nie.... maar moenie mense veroordeel en afkraak nie. Dit kon jou kind, broer, suster.... of 'n ouer gewees het.