Bydraes

Julle kan nou ook jul eie bydraes plaas onder LESERS BYDRAES of somer net KLETS...
LET WEL: Alle bydraes in Afrikaans, asseblief!

Wednesday, December 19, 2012

Kerstyd

Met die dat die plaas se geld nou nog nie deur die regering uitbetaal is nie, ry ons maar die jaar met Jan Tuisbly se karretjie.

Ons sou so graag by familie wou deurbring, maar helaas... daar gaan nie die nodige fondse daarvoor wees nie. So gepraat van geld, smaak vir my, jy moet deesdae 'n stewige bankbalans of baie skuld maak om mense oor die feesgety gelukkig te hou. Nie dat dit enige iemand in dié familie pla nie! Ons het nog nooit skuld aangegaan wanneer dit kom by Kersfees nie. Maar as 'n mens so kyk na die TV advertensies voel dit vir mens of jy basies deur die samelewing verplig word om jou swaar verdiende geldjies op allerhande onbenullighede te spandeer terwille van die "gees van gee". En dan is daar soveel mensies daar buite wat niks het nie en dankbaar is vir dit wat hulle kry, al is dit net 'n ou lekkertjie.

Waar was die dae, toe kersgeskenke iets was, wat uit jou hart en met liefde aan iemand gegee is? Gewoonlik ietsie kleins, dis mos immers die gebaar wat tel en nie die prys etiket nie. Ek kan met deernis onthou hoe my ouma en oupa handgemaakte speelgoed aan ons kleinkinders gegee het. Ouma en Oupa het dit ook maar nie breed gehad nie. Inteendeel, alle kersgeskenke was handgemaak, of sommer keurig verpakte lekkernye. Kerstyd in die van Helsdingen en Potgieter families gaan nie oor gee nie. Vir ons gaan dit oor samesyn en gesellig wees saam met familie en vriende. Daar's nie sulke goed soos reuse versierde kersbome of uitspattighede nie, maar daar is warmte en die tafels het altyd gekreun onder die kos.

Wat is jul gunsteling herinneringe aan Kersfees?

No comments:

Post a Comment