Ag wee jy! Va’more is ek so skuins duskant moedverloor
se vlakte. Ons is nou al so halfpad
ingeburger hier in die nuwe tuiste, maar die klein jakkalsies wil nie wyk
nie. Ek het ‘n skepsel gekry om te kom
help met die was van vensters en hang van gordyne. ‘n Oumens sukkel mos maar so op en af op die “stêppie”
en Oompie kan nou eens meer sy balans sittende op ‘n leer hou nie, wat nog te
sê staande. Toe het ek maar goed gedink
om een van die plaaslike boorlinge te huur vir die daaglikse takies wat ek nou
nie meer kan verrig nie.
Wat ‘n
gesukkel! Die mêrrim kan glo nie ‘n
woord Afrikaans praat, wat nog verstaan.
Sy praat net Ingels of haar inheemse taal, wat ek weer nie ‘n woord van
verstaan of praat nie...
So praat ek maar my beste Ingels, maar my Afrikaanse tande wil nie saam praat nie. Dit kom so krom en skeef en ek beduie en demonstreer dat dit ‘n aardigheid is. En va’more mis ek vir Sarah en haar raakvat hande en ek huil sommer oor die mis van Jantjie se “maak ‘n plan” persoonlikheid. Die twee was al die jare my linkerhand en regterhand en nou voel my hande skoon afgekap.
My twee getroue
helpers het baie ywerig gehelp met die trek, seker maar uit nuuskierigheid net
om te sien hoe lyk dinge anderkant die grense van die Noord-Kaap. Ek kon nie help om my te verkneukel aan die
twee se kommentaar rakende hul medelandsburgers nie. Groen landskappe, berge en
dale het die twee in verwondering gelaat, maar taal en kultuur was vir hulle ‘n
totale skok. Die dat hulle nie vinnig
genoeg kon terug kom by hul eie mense en omgewing nie.
Ek sal nooit
vergeet die môre toe ons by die vulstasie stop om die vragmotor vol brandstof
te maak nie. Spraaksame Jantjie was uit
nog voordat die vragmotor behoorlik tot stilstand gekom het. Vrolik begin hy al die petroljoggies te groet
en geselsies aanknoop, maar hy word net nors aangegluur. Hy klim later baie bekaf terug in die
vragmotor en ek hoor hoe vertel hy vir Sarah: “Nee my vrou! Wat virre mense is dit die? Hulle kan nie eers ‘n man groet as jy môre
loep sê nie. Ongeskik sê ek vir jou, on-ge-skik! In myse lewe sal ek nooit hier kom bly nie” Dit was ook die laaste keer dat hy probeer
het om met die plaaslike mense te kommunikeer.
Maar nou ja, ek
dwaal alweer van die storie af. Ek
verduidelik vir die mêrrim dat ek die vensters gewas wil hê, binne en buite
voordat ek die gordyne hang. Sy knik
kopskud instemmend en ek neem aan sy verstaan wat ek wil hê sy moet doen. Ek kies koers na die kombuis om solank die
potte en panne uit te pak en breekgoete in die kaste te loop wegsit. Ek hoor badwater loop en ek dink so by
myself, vir wat tap Oompie nou badwater?
Hy weet goed dat as hy sy sit in die bad gesit het, hy nie weer sy staan
kan kry nie en dat ek een van die kinders sal moet vra om te kom help om hom
weer daar uit te kry. Vererg, sit ek
weer alles neer en stap badkamer toe om die ou moedswillige klipkop te laat
verstaan dat hy nie nou kan bad nie. Pieterjan het mos nou nie verniet vir hom ‘n
stort gebou nie...
Kom in die
badkamer, toe het Mêrrim al die silwer skoon gordyne in die bad loop smyt! En sy is besig om dit te was dat die stoom en
skuimbolle staan... Behoedde my!
No comments:
Post a Comment