Bydraes

Julle kan nou ook jul eie bydraes plaas onder LESERS BYDRAES of somer net KLETS...
LET WEL: Alle bydraes in Afrikaans, asseblief!

Tuesday, May 24, 2011

Tamatiekis profete

Na afloop van die naweek se gebeure sit ek en dink….. Weë hierdie profete, wat so op hulle tamatiekissies staan en twak praat, is my pappot se deksel....  Hoeveel mense gaan nou nóg op hierdie sifgeryde donkiekar spring, voordat die vervloekte ding finaal omslaan en jy net profete sien spat?  Elke Jan Wegraap wat homself die afgelope eeu en ‘n half as ‘n profeet bestempel wil dié donkiekar ry.  Ek vrees, die wiele gaan kort voor lank af foeter, as die as nie breek nie.... en daai arme donkie.  Die beur maar swaar voort aan die vrag doem-donders, soos Gieljam se esel.

Die onderwerp het byna vir Dominee ook van stryk gebring, plaas hy preek oor valse profete.  Al waaroor hy kon preek is die eindtyd en hoe ons ons “huis” in orde moet kry.  (Dominee, my huis is orde.... Hoe lyk jou pastorie?) En dan loer hy so skalks na Nefie, asof die boodskap vir hom is. Man, ek weet Nefie se goeters is nou nie op hul plek nie, maar vir wat hou hy aan met karring.... Jy is ook mos ‘n mens, of is jy nou saam met die heilige profete op die donkiekar, Dominee?

Die sluwe ou bokkem (Die profeet, nie Dominee nie)! ‘n Stewige $100 miljoen van sy volgelinge gesteel en $18 miljoen in donasies later. Die ou gieraard het in 1994 ook dieselfde ding geprofeteer waarvan daar niks gekom het nie.  Die arme eenvoudige sotte! (Die profeet se volgelinge, nie die gemeente nie) Hulle glo hom warempel nog.... Kon hulle nie sien dat die ou, wat al vêr gevorderd in jare is (89), besig was om hulle te melk vir elke sent wat hulle het nie?  Die arme twak-vreters het die drek wat deur hierdie skarminkel gebraak is, vir soetkoek staan en opvreet... en dan sy metgeselle wat saam gery het op die ou doem-karretjie het net so af en toe die drek geroer het met hul groot hout kruise...herinner my aan die ANC, vol leë beloftes.  En nou is hy boonop weg, skoonveld.... missien, soos daai weglê hennetjie van my! 

Die Antie wonder nou, dalk het hy iewers gaan aftree of wie weet, dalk is hy werklik weg geraap deur mars mannetjies.... of sy familie het hom dalk laat opneem in ‘n inrigting vir versteurdes, vir sy eie veiligheid, natuurlik.  Hulle kon hom dalk nie van die tafel afkry nie.... hy’t heel moontlik teen Sondag oggend nog op en af gespring en geskree... “vat my saam, vat my saam!!”

En daar gaan ‘n lig vir my aan en ek bevraagteken die hoeveelheid aktiewe breinselle wat sy volgelinge gehad het.  Die ou pruim was heel duidelik ylend en meer seniel as al die inwoners van Huis Herfsjaar.  Maar ja, hy is nie die enigste twak prater nie en beslis ook nie die laaste nie.  Voor hom was daar vele ander. bv. Neusterdames, Viskop Eiser... hulle is ook al stof.  In 2000 was dit Gertjie Noord.  Toe ‘n mal Jood, Machiel Rood.  Regard Loon, Rebecca Harinkie, Ronnie Roos, Marlyntjie Aangee (haar derde voorspelling was ook mis, dink haar van is nou AGNEE!), Robert Malman en die Moroon Josef Smit.  En so gaan die lys van twak praters met slinkse breine en gierige vingers aan.

Siener het ook gemymer in raaisels, vergelykings, beeldspraak en metafore... maar tog is daar glo bewyse dat van sy voorspellings akkuraat was.  Maar nou twyfel ek ook, wie sê dat dit nie maar per toeval was nie.  Mens kan mos jou eie konnotasies heg aan die gebrabbel.  Ek meen, ek het van sy profesieë gelees, maar dis vir my net so Grieks as Openbaring.

O ja, amper vergeet ek van die Maljaanse kalender wat in 1012, of was dit 2012, eindig.  Die hele Maljaanse bevolking is al eeue gelede vort... mens kan ook nou nie eens vir hulle loop en vra wat die storie rakende die klip wiel is nie.  Dit is net my logiese gevolgtrekking.... daar was nie meer plek op die vervloekte klip nie!  En, daar was ook nie meer tyd om ‘n nuwe klip te beginne voordat hul uurglas hier op aarde leeg geloop het nie.  En wie sê vir julle, hulle het nie dalk hul eie “wegraping” op die ronde klip aangedui nie.  Al wat ek daarop kan uitmaak, is ‘n son, blomme, krulle en ou krokodille.  Net ‘n klip vol prentjies... vir my maak die gedoente geen sin nie!

Ja, ja... en klim tog nou maar van daai donkiekar af!

No comments:

Post a Comment