Moeks weet mos dat ons gesinnetjie besluit het om te belê in ‘n mobiele huis, soos ‘n woonwa met ‘n enjin. Wel, om ‘n lang storie kort te maak sit ons toe vir ‘n lang naweek af na Margate, juis toe die Hardlywige Dawid (Harley Davidson) mense ook daar is. Dis net brullende motorfietse en groot ooms en anties in leeruitrustings waar jy kyk. Vreesaanjaend, sê ek Ma! Ons voel kompleet of ons onself in ‘n klomp Vikings vasgeloop het en asof ons besittings enige oomblik geplunder kan word. Bowenal is daar nie ‘n manier om op die strand te kom, behalwe as jy ‘n brullende gevaarte tussen jou bene het nie. Ek meen nou, motors en ander middele van vervoer word eenvoudig nie toegelaat nie…. dis gemoedsbekakkend! Hier is ons vir ‘n naweek by die see en ons is ook nie by die see nie…
Ons besluit toe maar om ‘n paar kilometer verder te ry en op ‘n ander strand te gaan ontspan. En so verkas ons toe maar Umhlanga toe, maar dit smaak my die motorfiets entoesiaste het daar ook oorgeneem. Die “heavies” kuier gelukkig heel vreedsaam in die plaaslike restaurant of kroeg, of so iets en ons gaan eis ongesteurd ‘n gaatjie op die strand op.
So ontspan ons toe heerlik met die kroos in die branders en ek en Liefie met ons tone in die sand. Honger en moeg keer ons terug na ons huis op wiele, toe Boeta een van die Harley gevaartes begin bewonder en luidkeels aan Sussa vertel dat dit by verre een van die mooiste goed op wiele is wat hy nog gesien het…. Fatale fout! Die eienares van so ‘n super silwer motorfiets staan op die balkon en luister hoe Boeta die Hardlywige Dawid se lof besing en Sussatjie ewe hard saam oe-en-ah. Moeksie, dis ‘n groot antie daai, sy sal ou Flooze rol en ‘n man na sy mamma laat roep. Haar kuite is so gepomp dat ek vrees haar leerbroek gaan oopbars!
Sy gil daar van die balkon af met ‘n sigaret in die mond soos agter elke man se antie Stienie: “Boeta! Watter bike like jy?” Boeta is ook nie links nie en gil terug: “die Harley, Antie!” Die vrou brul daar van die balkon af soos ‘n opgewarmde Cortina en rook asof haar ringe sat is: “Wa-a-a-a-t, daai is nie ‘n bike nie… dis ‘n stuk kak, man!”
My hart klop in my keel en my boude maak oop en toe, ek weet nog nie of ek lug inlaat of uitlaat van benoudheid nie. Ek bid hardop dat die wilde vrou tog net nie geweld moet gebruik nie en Boeta hier kom oriënteer om eerder haar motorgedoente te prys in plaas van die Harley nie. Boeta wil ook nie kopgee nie en skree terug dat die “vintage” Harley baie meer karakter het as haar Super Fiets. O hemel! Ek sien in my geestes oog hoe spring daai vrou daar oor die balkon met haar hele gevolg agterna en kom klap die rook uit ons uit. Ek sien Liefie raak ook nou benoud en sleep vir Boet en Sus sommer so aan die klere na ons mobiele huis toe…. “Spring in, ry Liefie!” gil ek “Voor die vrou ons iets kom aandoen!” Ek waag nie om om te kyk nie, hoop maar net in die stilligheid dat sy nog daar op die balkon staan en trek aan haar sigaret….
No comments:
Post a Comment