Die grootste leuenaar van almal, word gesê, is die een wat homself kan oortuig. Ek sou sê dis eerder diegene wat aan hul eie vermaak as aan die vermaak van ander dink… Of is dit nou anders om? Maar waar begin die leuens?
Maar vroutjie het ‘n plan gehad om hom permanent te “genees”. Sy het die aand, soos gewoonlik vir hom sop gekook, hom gevoer, gewas en aangetrek.... en die predikant laat kom. Die hele familie het ook toe om sy bed vergader. Grootoog vra Piet toe, waarom al die mense daar is. Vroutjie antwoord vreeslik bewoë, “Maar Piet, wis jy nie dat jy besig is om te sterf nie? Almal het jou kom groet, my man. Dominee het laaste sakramente aan jou kom bedien.” Pieter skrik hom asvaal. Hy ween en beur om orent te kom, maar hy het nie krag in sy lyf van al die maande se gelê en niks doen. Vroutjie paai hom, druk hom terug in die kooi en fluister saggies in sy oor, “toemaar Pappa, die gif wat ek in jou sop gegooi het, sal nou begin werk.”
Daar gekom laat hulle die lyksbesorger hom sy “Houtpak” aantrek. Toe Piet die volgende more in die kis ontwaak, was daar ‘n groot kabaal in die lykshuis soos die man tekere gaan. Ek dink tonele soos uit die 1960 riller, “House of Usher”, het deur sy gedagtes gegaan en hy het heel moontlik gedink hy het dalk uit ‘n skyn dood ontwaak. Die ou spekskieter lig die kis se deksel so suutjies op en loer oor die randjie. Met die opkyk slag, kyk hy in sy vrou vas, uitgedos in haar rou klere. Sy staar net voor haar uit. Foeitog, al te droewig!
Dis toe dat die man histeries raak soos ‘n ouvrou wat ‘n rot gewaar het. Hy gil dat die kranse antwoord gee: “Jul kan my nie begrawe nie! O Vader, help my! Ek is nie dood nie! Om hemels naam, antwoord my!” Nie een kon dit meer verduur nie. Dominee begin proes en die proes word na die volgende oorgedra soos ‘n aansteeklike siekte, binne sekondes bars die hele lykshuis uit van die lag (Behalwe die dooies natuurlik). Almal skater! Ek dink nie daar was al ooit soveel in ‘n lykshuis gelag nie. Hul skree dat die trane loop party wriemel op die grond rond soos afkop slange.... As ‘n geskater dooies kon opwek, dink ek dit kon daar gebeur het. Nodeloos om te sê, dit was die einde van Pieter Spekskieter se siekte en sy stories. Behalwe vir die ommekeer, het hy van toe af lig geloop vir sy ou vroutjie. Boonop het die ou tot dusver nog meeste van sy tydgenote ook oorleef!
Wat nou nie ‘n leuen is nie en ‘n feit is soos ‘n koei wat lê, is die feit dat almal; die hoog heilige kerk amptenare inkluis... die een of ander tyd …. al is dit nou net ‘n ou klein witleuentjie vertel (om die agterhoede te dek). Byvoorbeeld: Wanneer Vroutjie voor die spieël staan, haar lyf uit alle hoeke beloer en vir Liefie vra of sy op ‘n dieet moet gaan. Dan vertel Liefie vir haar hoe pragtig sy is, net om die vrede te bewaar. Loop vertel hy vir haar dat die eens fyne vygie wat hy getrou het, oornag in ‘n vetplant verander het, slaap hy beslis saam met die werfbrakke! Meneer, daai ding doen jy nie, gehoor! Jy lyk self nie veel beter na al die jare se ge-biersuip en rusbank plakkery nie, nê... jou borskas het die laaste paar jaar in ‘n hangkas verander, as jy dit nog nie agter gekom het nie.
Luister nou mooi vir die antie, as daar een ding is waaroor jy nie lieg nie, dan is dit siekte. Oorle Ouma het altyd gesê, “mens spot nie met siekte nie, my kind”. So gepraat van spot met siekte, ek dink nou aan daai Shaik mannetjie wat met sy kamtige siekte die tronk vrygespring het, want die is glo so siek is dat hy enige tyd lepel in die dak kan steek... nou verwyl hy maar sy tyd op die golf baan... want daar’s mos nie ‘n dak nie. Bid jou dit aan!
Ek dink hy en ‘n paar van ons landgenote, kan November aan die Wêreld se Grootste Liegbek Kompetisie gaan deelneem... hul staan ‘n baie goeie kans om te wen. Ek lieg nie, daar’s jou werklik so ‘n kompetisie in Cumbria Ingeland! Die kompetisie word jaarliks gehou ter nagedagtenis aan hul eie grootste en beste liegbek, ‘n ene Will Ritson. Glo ‘n kroeg eienaar wat alom bekend was vir sy fabels en verdigsels. Een van sy mees bekendste stories was oor rape wat so verwoed gegroei het, dat die mense skure daaruit kon kerf...
Om terug te keer na die kompetisie. Kompeteerders van reg oor die wêreld reis daarheen om te gaan lieg. Die een wat die mees oortuigendste liegstorie kan vertel en die beoordelaars kan oortuig, is die wenner. Maar daar is een vangskoot... of is dit nou twee... Die reëls staaf dat politici en regsmense nie mag deelneem nie, omdat hulle gesoute leuenaars is..... So, jammer Mr. Dilemma, jy mag nie deelneem nie en ook nie Mnr. Swerkater.... Ja jy, Meneer, wat nou as die Spe... spe... Ag gedorie, nou kan ek nie daai groot woord onthou nie. Iets oor sperm en ‘n senator... o ja.... Sper-mi-na-tor! Nou ja, jy mag ook nie deelneem nie. Laat my nou dink aan die storie van ou Pieter Spekskieter, maar hou dit maar eers vir later...
Nou waar was ek nou weer? O ja, die kompetisie! Deur die jare was daar vele wenners maar meestal Ingelsmanne wat die kompetisie gewen het. ‘n Ingelsman genaamd Johnny Liegbek Graham het die kompetisie al sewe keer gewen... Ligloop vir die man! Ironies genoeg het nog net een vrou daarin geslaag om die kompetisie te wen en in 2003 het ‘n Suid Afrikaner, Abrie Kruger, met die louere weggestap. Maar daar was beskuldigings, van die einste Liegbek Graham, dat onse Abrie gekul het. Die blikslaer beweer en diskrimineer toe dat onse Abrie ‘n Suid Afrikaner is en dat buitelanders nie mag wen nie. Bleddie Kakiebos, sal ek my sondes nie omsien nie! Ek gaan sommer November ook Cumbria toe net om die ou bokkem se derms te loop uitryg! Nietemin, Abrie het gewen buitelander of de niet!
Om terug te keer na die storie van Pieter Spekskieter, wat ook net so lekker drinkebroer stories vertel het, hier in Putsonderwater se eens glorieryke hotel. Ou Piet het vreeslik oortuigend, met ‘n traan in die oog aan al wat ore het, vertel dat hy dodelik siek is. Die een week het hy te vertelle, hy het longkanker, toe is dit maagkanker.... en so het die kanker deur die stomme man se liggaam getrek. Die ou bogger was natuurlik nooit siek nie, net te lui om te werk. Ou vreksel! Hy het sy dae omgeslaap en sy arme ou vroutjie moes die pot aan die kook hou, kinders versorg én hom met hand en voet bedien.... Van dokter of hospitaal wou hy niks weet nie. Die blikslaer het natuurlik geweet, hy sal deur ‘n dokter wat sy sous werd is, perdfris verklaar word.
Maar vroutjie het ‘n plan gehad om hom permanent te “genees”. Sy het die aand, soos gewoonlik vir hom sop gekook, hom gevoer, gewas en aangetrek.... en die predikant laat kom. Die hele familie het ook toe om sy bed vergader. Grootoog vra Piet toe, waarom al die mense daar is. Vroutjie antwoord vreeslik bewoë, “Maar Piet, wis jy nie dat jy besig is om te sterf nie? Almal het jou kom groet, my man. Dominee het laaste sakramente aan jou kom bedien.” Pieter skrik hom asvaal. Hy ween en beur om orent te kom, maar hy het nie krag in sy lyf van al die maande se gelê en niks doen. Vroutjie paai hom, druk hom terug in die kooi en fluister saggies in sy oor, “toemaar Pappa, die gif wat ek in jou sop gegooi het, sal nou begin werk.”
Die ellendeling raak nou éérs benoud en baklei soos ‘n verwonde leeu om uit die kooi te kom, want nou is hy vas oortuig sy sterwensuur het aangebreek. Vreeslike drama! Ou Piet voel hoe die krag hom verlaat, al stoeiende met die dosis slaap pille wat Vroutjie hom ingejaag het. Gelukkig vir die man het sy hom slaap pille gevoer en die gif nie. En dan was dit darem ook nou nie ‘n oordosis nie, net genoeg om die man in ‘n diepe slaap te laat versink. Mens, dit was pateties om die man so pleitend te sien. Hy ween , kners en baklei te verskriklik, maar die pille wen en Piet slaap soos ‘n dooie. Vroutjie het in haar genialiteit die hele scenario haarfyn beplan. Almal het saam gespeel, Dominee inkluis. Ek dink die hele kontrei was betrokke met die samesweerdery.... Die slapende man neem hulle toe na die buurdorp se lykshuis, Putsonderwater het nie so iets gehad nie....
Daar gekom laat hulle die lyksbesorger hom sy “Houtpak” aantrek. Toe Piet die volgende more in die kis ontwaak, was daar ‘n groot kabaal in die lykshuis soos die man tekere gaan. Ek dink tonele soos uit die 1960 riller, “House of Usher”, het deur sy gedagtes gegaan en hy het heel moontlik gedink hy het dalk uit ‘n skyn dood ontwaak. Die ou spekskieter lig die kis se deksel so suutjies op en loer oor die randjie. Met die opkyk slag, kyk hy in sy vrou vas, uitgedos in haar rou klere. Sy staar net voor haar uit. Foeitog, al te droewig!
Ou Piet is nou vas oortuig, hy is besig om die dinge uit die dood te aanskou en hy maak die kis se deksel nog groter oop. Wat hy daar sien, laat hom summier soos ‘n verskrikte kat uit die kis spring. Hy dag dat as hy in die kis loer, hy homself in die kis gaan sien lê... maar daar’s niks. Hy’s nie in die kis nie, maar hy kan onmoontlik nie lewend ook wees nie. Hy voel-voel so aan homself. Tog blyk dit dat hy nog al sy ledemate kan betas en hy kan sy gesig ook nog bevoel. Ou Piet knyp homself en klap sy eie bakkies vuurwarm.... “Nee”, dink hy, “as ek pyn voel kan ek seker nie dood wees nie”. Hy gaan staan voor sy vroutjie en wuif verward met sy arms. “Hermien”, skree hy, “sien jy my?” Maar sy staar steeds net droewig voor haar uit, knip nie ‘n oog nie. Niemand in die lykshuis sien hom kamtig raak nie, nie Dominee nie en ook nie die familie nie.
Dis toe dat die man histeries raak soos ‘n ouvrou wat ‘n rot gewaar het. Hy gil dat die kranse antwoord gee: “Jul kan my nie begrawe nie! O Vader, help my! Ek is nie dood nie! Om hemels naam, antwoord my!” Nie een kon dit meer verduur nie. Dominee begin proes en die proes word na die volgende oorgedra soos ‘n aansteeklike siekte, binne sekondes bars die hele lykshuis uit van die lag (Behalwe die dooies natuurlik). Almal skater! Ek dink nie daar was al ooit soveel in ‘n lykshuis gelag nie. Hul skree dat die trane loop party wriemel op die grond rond soos afkop slange.... As ‘n geskater dooies kon opwek, dink ek dit kon daar gebeur het. Nodeloos om te sê, dit was die einde van Pieter Spekskieter se siekte en sy stories. Behalwe vir die ommekeer, het hy van toe af lig geloop vir sy ou vroutjie. Boonop het die ou tot dusver nog meeste van sy tydgenote ook oorleef!
Gedorie, wys jou net...
No comments:
Post a Comment