Bydraes

Julle kan nou ook jul eie bydraes plaas onder LESERS BYDRAES of somer net KLETS...
LET WEL: Alle bydraes in Afrikaans, asseblief!

Monday, June 27, 2011

Soete Wraak

Elke ou gemeenskappie het maar sy boel ontroues, egbrekers en verleidsters… Maar niks kom by ‘n vrou se wraak wanneer sy vermoed of wéét haar wederhelf wei in die buurman se lande nie of is dit nou, in die buurvrou se katel…

Antie sal nou moet mooi dink hoe sy hierdie storie gaan oorvertel, want hier kan ek nou nie name bekend maak nie, veral nie dorps name nie.  Nou nie dat ek persoonlik die owerspelige partye ken nie, ek het maar net per toeval daarvan gehoor.

Die storie beginne op ‘n dorpie in vêrre Natal, waar ‘n ene Jan, kom ons noem hom maar Jan… Blykbaar oor die draad geloer het, moontlik dalk meer gedoen het, as om net te loer.  Hoe sal ek nou weet?  Maar in elk geval, Vroutjie het hom uitgevang en besluit om hom in eie munt terug te betaal vir die verraad.  Die sonde moes redelik groot gewees het as ‘n mens dit met sy straf vergelyk.


Derhalwe het sy ‘n advertensie in die dorpie se plaaslike aanlyn “soek kolom” geplaas, onder ‘n skuilnaam. Waar sy die dienste van ‘n “manne klub” geadverteer,  met hope los meisies vir die manne se vermaak.  Vroutjie het natuurlik ook onder haar valse profiel, haarself voorgedoen as een van die skarlaken vroue, met ‘n profiel foto wat duidelik haar kamtige beskikbaarheid en intensies ten toon stel.   Die kinkel in die kabel is, sy het Jan se nommer gelaat as kontak persoon.  Kyk, op die platteland werk dit so... As jy ‘n klomp woedende anties op jou nek wil hê en geen rus of duurte vir jou siel nie, dan moet jy iets wat met losse sedes te doene het, adverteer.  Selfs deur sulke duistere plekke te ondersteun, gaan jou oneindig baie probleme op die hals haal.

Nodeloos om te sê, ou Jan het dit hot agter gehad en moes wild verduidelik en vure doodslaan.  Die saga wat toe daarná ontvou, was iets wat Dallas van ouds, na ‘n kinderverhaal laat lyk.  Dit was beslis nog net die puntjie van die ysberg, maar ek kry die gevoel, dat die einde daarvan vir Jan nog lank nie in sig is nie.

Deur die jare was daar ook al menigte intriges van vroulike wraak, met veel leliker gevolge.  Gewoonlik waar die gevolgie nege maande later sy opwagting gemaak het en die medepligtige se wederhelf daardie operasie ondergaan het om sy “familie wapen” skadeloos te stel.  Die ander party se kundige vroutjie, bewus van haar eggenoot se handelinge, het die “beskermings apparaatjie” met ‘n kopspeld bygedam en terug geplaas in sy beursie.  Of nóg erger, waar die skuldige party haarself tans agter tralies bevind.... ek praat nou nie hier van passiemoord nie.


Een so ‘n verhaal het hom hier in die kontrei afgespeel. Die dorp was vir maande daarna nog aan die gons. Die herder van die gemeente, het die smal weg erg byster geraak, deurdat hy en ‘n vername sakeman se onderwyseres-vroutjie, op kerkkampe gekafoefel het. Mevrou Dominee en Meneer Sakeman, was vir jare salig onbewus van die affair, maar daar is nog ‘n wending in die verhaal!  Die juffrou het die skoolseuns óók vermaak terwyl haar man op sy sakereise was.  Die vet was in die vuur, toe haar wederhelf onverwags tuiskeer en haar met een van die jongelinge betrap. Uiteraard, terwyl hul doenig was met katelkaskenades!


Sakemannetjie, blind van woede,  jaag toe die naakte jongeling... Ten aanskoue van die hele buurt se huisvroutjies, straat op en straat af, terwyl hy moord gedagtes proklameer.  Onse huisvroutjies kon ook nie vinnig genoeg die telefone se slingers draai om aan hul oningeligte vriendinne die nuus oor te dra nie. Gevolglik het die storie uitgekring, soos wanneer jy ‘n klip in ‘n dam sou gooi.  Spoedig het almal geweet van die juffrou se gevroetel onder die skoolseuns.  Ja, die ander mannetjies het ook vroeër of later na vore gekom, elk met hul storie oor “ekstra klasse” by die jeukerige juffrou.


Maar die einde is dit nog niet!  Die groot bom bars eers ‘n week later, toe sake vir Juffrou te warm begin raak.  Tóé sou dit op die lappe kom, dat Dominee al die jare van Juffrou se oortredinge bewus was en dat die hoogheilige blou-bles blikslaer, sy stilswye aangebied het in ruil vir “ekstra lesse”.  Dit het Juffrou nie lank geneem om die verhaal van Dominee se jare lange afpersing aan die media te verkwansel nie.
 



Koerant opskrif:
“Katoolse Juffrou ontbloot woelige Dominee se skandes.”


Nadat Dominee se eskapades met die Juffrou aan die lig gekom het, het Mevrou Dominee ook haar oomblik van wraak gekry.  Sy het glo al Dominee se klere in repe geskeur... As ek sê al sy klere, dan bedoel ek alles!  Daarna het sy die pastorie se slotte laat verander en toe Dominee die middag tuiskom, het hy sy verskeurde klerasie, versprei in die voortuin gevind.  By die voordeur was sy Bybel en ‘n nota gelaat.  Mevrou het dit in die nota duidelik gemaak dat hy nie welkom is in die pastorie nie en dat hy vergifnis vir sy sondes moet vra.  Die woedende pastoriemoeder, het hom ook goed laat verstaan, dat as hy sou waag om die pastorie te betree, sy nie sal huiwer om te skiet nie!  Dus moes Dominee elders ‘n heenkome gaan soek.  Ek dink hy het die nag op ‘n park bankie deurgebring, want nie een van die kerkraad lede sou dit waag om hom vir die nag te akkommodeer nie.  Uit vrees vir hul wederhelftes, natuurlik.


Albei partye is uiteraard gevonnis.  Dominee weens afpersing en Juffrou is gevonnis vir haar onwelvoeglike dade met minderjariges.  Waar die twee hul nou bevind, weet die duiwel alleen.  Al wat ek weet is dat Mevrou Dominee van haar verradelike eggenoot geskei is en elders gaan woon het.  Die sakeman het ook stil-stil uit die dorp verdwyn.



Behoede jou bedrieër, die hel het nie soveel toorn, soos ‘n verkulde vrou nie...

No comments:

Post a Comment