Die gesegde lui, “lag en die wêreld lag saam met jou, huil en jy huil alleen”. En as jou eie komiese onkunde die oorsaak van hoeste en proeste is, weet jy nie aldag of jy saam moet lag of alleen wil huil nie.
Nefie, wat net sowel die “Glam Guru” van die Noord Kaap kon gewees het, reken mos sy antie lyk heeltemal te afgeleef vir haar jare. Nou kyk, as daar een ding van hierdie fiefie-mans is, dan is dit hul beheptheid met voorkoms. Ek, sy ma, niggie en sussie word heeldag gemaan oor wat is mode-pas en wat is voorstedelik onvanpas. Ek dink die mannetjie het sy roeping totaal en al gemis… As hy ‘n beroeps verandering oorweeg het, is dit seker nog nie te laat nie, maar na dese dink ek nie dit is so ‘n goeie idee nie… Veral nie nadat sy agtertangse antie hom so in die skande gesteek het nie.
Maar aan die anderkant… As ek grys, geplooi en afgerem voorkom, dan is dit alles te danke aan Pieterjan, Dorie en Nefie. En dan ook hierdie ongenaakbare stukkie aarde, wat ek my tuiste noem. Tjag! En moenie van Oompie vergeet nie, maar ja, slapende honde moet liefs met rus gelaat word.
Nietemin, Nefie help my pak sodat ek saam met hom Sodom en Cremora toe kan voeter vir die mooimaak sessie. Die tipe spesialiste is mos nou nie in die geweste beskikbaar nie, net die alledaagse blaas-en-knip fabriek op die buurdorp, maar volgens Nefie is hulle nou nie kenners op die vakgebied van “oormaak” nie. Die mense spesialiseer glo daarin om lelike eendjies, soos ek, te wys watter haarstyl hulle pas en so aan. Ek dink eerlikwaar, ‘n agterplaas paneelklopper staan ‘n veel beter kans om hierdie ou krok op te dollie, met bietjie stopverf hier... duike uitklop daar, toonnaels met die hoekslyper bydam en siedaar!
Ek was jare laas in ‘n groterige dorp, wat nog te sê, ‘n stad! Ek is skoon oorstelp, of dalk is dit die senuwees wat knaag. Nefie sê, “Antie, a change is as good as a holiday”. Dan moet ek dit seker maar as ‘n vakansie sien en ophou voel soos ‘n lam ter slagting. Die rit stad toe, neem ‘n ewigheid en ons kom eers laat middag by Nefie se meenthuisie aan. Genadetjie! Dis net tralies en sekuriteitsmense, dit lyk alteveel vir my na ‘n tronk as ‘n luukse kompleks! Ek verlang sommer al klaar na die ooptes van die plaas. Wat het my besiel...
Die nag kon ek nie slaap nie. Ek rol die heelnag onrustig rond. Ai, hoe mis ek Oompie se gesnork in my ore en die bekende plaas geluide. Die volgende more is ek traag om uit die kooi te klim. Na ‘n half uur se geworstel vind ek, na die vorige nag se gewoel, dat ek kompleet soos ‘n mummie toegedraai is in die lakens. Ek voel sommer ‘n honderd jaar ouer! Tydens ontbyt, bestaande uit semels, jogurt en vrugtesap en nie ‘n vol plaas ontbyt waaraan ek gewoond is nie... Deel Nefie my mee dat hy werk toe gaan en my later sal sien. “Hoe nou? Ek het gedag jy gaan saam met my,” spreek ek my misnoeë uit. Hy stel my gerus, alles is gereël. Hy het so ewe vir my ‘n lysie gemaak van waarheen ek oral moet gaan en hoe laat ek waar moet wees. Al wat ek moet doen, is net die instruksies volg en dit geniet. Die huurmotor, wat hy vooraf gereël het, sal my na al my afsprake neem.
Hier is ek, aan my eie genade oorgelaat, gewapen met slegs ‘n lysie instruksies. Angstigheid jaag my na buite, die meenthuisie wil my versmoor. Minute later stop ‘n blink kolos in die oprit, waar ek al klouende aan my handsakkie, rond skuifel. ‘n Man met ‘n swart pak en pet klim uit... Ja, soos daai in die flieks! Hy maak galant vir my die deur oop. Mensig, ek vergeet skoon van die vrees wat my hart omklem en klim in. As ek jonger was, het ek seker sulke stuitige bokspringetjies gemaak en in geduik! Hierdie luuksheid moes Nefie seker ‘n paar pond gekos het. Die ontevredenheid en angs wat vanoggend nog in my binneste geroer het, maak plek vir ‘n vreemde gevoel van opwinding. Ek voel soos royalty, ek moet nog net die ruit afdraai en my onderdane met ‘n koninklike wuif begroet. Og, dis oral net blink knoppies en goete! Ek bevoel die sagte leer sitplekke met my knokkel vingers en sê vir myself, “vandag Dorie, gaan jy weet hoe dit voel om in die afgrond in bederf te word...” Min wetend, dat dit letterlik tot in die spreekwoordelike afgrond van skande gaan wees.
Ek haal my leesbrilletjie uit my handsak, sodat ek die instruksies kan lees, maar interpreteer Nefie se instruksie heel verkeerd. Waar ek by die haarsalon moes vra vir ‘n Brasiliaanse haar behandeling en ‘n tint... En by die skoonheid salon vir ‘n pedikuur, manikuur en ‘n gesigsbehandeling, vra ek by die skoonheid salon vir die Brasiliaanse behandeling en tint. Hoe moes ek nou van beter weet? Die dametjie kyk my aan, asof sy sopas ‘n marsmannetjie ontmoet het en vra, “is Mevrou seker?” En ek sê toe, ja, dis wat op Nefie se instruksie staan. Pleks ek uitvra oor die prosedure en wat Nefie met haar bespreek het, maar ek ploeter mos net voort!
Daar word ek na ’n bedjie, wat vir my vreeslik baie na die ene in die dokter se spreekkamer lyk, gelei. Die vriendelike dametjie vra vir my om my klere uit te trek en die vreemdsoortige papier broekie aan te trek en ‘n fraai japon. Ek doen toe maar so en klim op die bedjie. Vir ‘n vrou van my ouderdom is dit nou nie iets vreemds om te doen nie, elke vrou behoort haar die een of ander tyd medies te laat ondersoek. Maar ek kan nog nie verstaan waarom ek vir ‘n skoonheids behandeling ook deur dieselfde uittrek en bedjie ritueel moet gaan nie. Die dametjie keer terug en vra my om wyd oop te maak, tussen die groottone, natuurlik. My gedorie! Kry mens dan skoonheids behandeling vir daai deel van die anatomie ook? Die kind staan en besmeer my met sulke warm taai goed, beplak my met lang pleisters en pluk my ou hoendertjie se laaste drie vere uit... Ek voel skoon naak!
Toe dit kom by die tint, verduidelik die kind vir my dat sy eers van die ruigtes op my voorkop sal moet uitdun voordat sy gaan tint. “Doen maar so”, antwoord ek. Sy pluk en pluk dat daar net twee sulke yl bogies oorbly. Daarna sit sy die kleur goete op die broue wat sewe soorte dinges uit my brand. Gelukkig neem dit nie lank nie en dit is gou oor en verby. “Mevrou weet,” babbel die kind voort, “Mevrou moes eers gekom het dat ons ‘n gesigsbehandeling of ‘n mini-facelift gedoen het en dán die tint.” Dis toe dat dit my soos ‘n voorslag hammer tref, tussen die oë. Ek het die plekke en die prosedures omgeruil! O Koekenaap! Hoe verduidelik ek die dilemma aan Nefie?
Ek vertel blosend aan die dametjie dat ek effe verward was en dat ek eintlik vir die laasgenoemde behandeling moes kom. Sy is gaaf genoeg om dadelik vir Nefie te skakel en die situasie aan hom te verduidelik. Ek is nog rooier van verleentheid toe die kind aan my verduidelik dat daar twee soorte Brasiliaanse behandelings is. Die een laat doen jy by ‘n haarsalon en dit is ‘n prosedure waarin krullerige hare reguit gemaak word. Die ander laat doen jy by ‘n skoonheids salon, waar soos in my geval, ongewenste hare aan die onderwêreld verwyder word.
Wil jy nou meer! Enige pleb kan mos so ‘n foutjie maak, of hoe? Nefie was darem nie té ontsteld nie, en hy het gelukkig die res van die week verlof geneem om saam met my die konsultante te besoek. Ek sou nie nog so ‘n verleentheid oorleef het nie en Nefie se beursie ook nie. Ek moet sê, ek voel en lyk soos ‘n nuwe sikspens, dis net die Boutoks behandeling waarvoor ek nie kans gesien het nie... Ek gaan nie my vol gif laat spuit nie! As niemand nog opgelet het nie, ek het nie plooie nie, dis karakterlyne.
En my ou hoendertjie.... Ek hoop die vere groei terug voordat Oompie die versteekte blou pilletjies vind en weer belangstelling toon....