As daar nou ‘n ding of twee is waaraan ek nie glo nie, dan is dit karma en die noodlot. Albei is vir my iets onheiligs, sinister, heidens! Bygeloof staan my ook nie aan nie, die Bybel sêg mos aljimmers… wat jy vrees sal jou oorkom, so Antie probeer om die vrese met rus te laat.
Die laat my nou dink aan Ollie van Banghoek. Die stomme man is ‘n ongeluk wat net ‘n plek soek om te gebeur. Ek dink nie daar is nóg ‘n persoon op hierdie aarde-bodem, behalwe Job van die Bybel, wat al soveel ongeluk ervaar het en dan nog leef om dit te vertel nie. Dalkies, het hy sommer so per ongeluk in die wêreld gekom ook. Dis nou Ollie, nie Job nie! Ek het die vraag nog nie aan sy moeder gevra nie, die vrou mag haar dalk net bloedig vir my vererre en dan is die verdoemenis op my.
Dis nie dat die ou roekeloos was nie, ek reken hy is selfs bang vir sy eie skaduwee. Ek vermoed hoeka dat dit hierdie banggeite van hom is, wat al die oninbare dinge, oor hom bring. Die ongelukke van Ollie is van so ‘n aard, dat geen assuransie maatskappy hom meer wil verseker nie. Nou wonder ek of hy darem lewens dekking het? Met die dat hy ‘n wandelende risiko is?
Die heel eerste teëspoed wat hom getref het, was op die tenger ouderdom van twee. Hy het uit sy stootwaentjie gefoeter en op sy koppie geland. Sy vader het sommer so sy voorhoof met vislyn en ‘n geboë saknaald toegewerk. Hy het nou nog die aaklige litteken. Tweede ongeluk, op die ouderdom van vier. Hy beland onder ‘n trekker en verloor byna sy been. Derde ongeluk, op die ouderdom van ses, neuk hy van die skuur se dak af en breek die ander been. So verloop die jare en elke tweede of derde jaar tref die een of ander onheil die mannetjie. Van die aller vreeslikste kindersiektes tot die mees onmoontlike ongelukke. Hy is so ongelukkig, dink hy poep, dan skyt hy in sy broek!
As jong man, loop vry hy op die dorp. So kuier hy van die een nooientjie tot die ander. Jaar in en jaar uit, maar nie één sien kans om met dié man te trou nie. As hy nie ‘n beker stomende koffie op sy watsenaam omkeer nie, steek hy met die opsitkers, die gordyne aan die brand. Elke kuier eindig in ‘n fiasko! Nadat Ollie al beginne opgee het, en byna die hoop op ‘n lewensmaat laat vaar het, loop kuier hy by die laaste hubare meisie op die dorp.
Johanna, is haar naam. Die lewe het haar ook al ‘n paar dwars klappe toegedien. Johanna, stomme Johanna! Nou nie juis die mooiste kiekie nie! Sy was verloof aan ‘n kêrel wat haar voor die kansel afgesê het. Pokke het die aller vreeslikste letsels op haar gelaat gelos en polio het haar mank gelaat. Sy was nou wel ‘n paar jaar ouer as Ollie, maar die liefde het gedy en so per ongeluk, het Johanna swanger geraak. Haastig het die tweetjies maar so voor die magistraat loop trou. Ja! En per ongeluk skenk sy toe ook sommerso geboorte aan ‘n drieling, wat toevallig nie oor die nodige verstandelike fakulteite beskik nie. Foei!
Ja wat! En so het die lewenswandel vir Ollie en Johanna esse en draaie gegooi en soms sy gatkant gedraai. Elke jaar of twee gebeur daar ‘n ongelukkie wat twee of meer gevolge gehad het. Voordat hulle kon keer, het hulle ‘n wetterse kroos van twaalf, wat bestaan uit ‘n hele string tweelinge en meerlinge. Saliglik vir Ollie, tref die teëspoed hom en hy kry pampoentjies. Die enigste kindersiekte wat hy as kind vrygespring het, trek hom plat in se drie-en-dertigste lewensjaar! As gevolg komplikasies verloor Ollie die vermoë om kinders te verwek. Ook maar goed so, want hy en Johanna teel soos konyne. Met twaalf monde om te voed, dink ek dat die ongeluk eerder ‘n bedekte seën was.
Met die verloop van jare, was daar die een ramp op die ander. Een van die stelle tweelinge, het Ollie se nuwe trekker, in die dam in gery. Toe verloor Ollie sy vingers in die vleismeule. Nie lank daarna nie, verloor Ollie sy hele oes... aangehelp deur ‘n ander stel tweeling-boggers wat skelm in die lande gaan rook het. Op ‘n dag, herstel Ollie ‘n windpomp en neuk daar af. Hy breek twee ribbes en sy enkel. Na vele maande herstel Ollie, maar toe speel sy ander twee dondertjies, op die stroper wat in die skuur staan. Die helle sit die ding in rat, jaag deur die skuur se muur en pyl reguit op die huis af. Hulle kom tot stilstand in die voorhuis!
Die rampe hou net nie op nie. Skape vrek. Nóg ‘n misoes. Die damwal breek, genadiglik herwin Ollie sy verdrinkte, maar verroeste trekker. Tweelinge gaan jakkalse jag, die een skiet per ongeluk die ander raak... Met genade van Bo, nie fataal nie. Jongste tweeling wil Ollie se skou haan leer vlieg, die haan het dit nie oorleef nie.
Selle twee wildewragtigs, bou ‘n vliegmasjien. Toetsvlug word beplan van die skuur se dak af, tydens Ollie en Johanna se Sondagmiddag slapie. Die tweeling het dit oorleef met ‘n paar skrape en gebreekte bene, hulle het gelukkig die melkkoei raak geval. Die melkkoei, het dit nie oorleef nie! Sy oudste tweeling-dogters, raak albei swanger. Trou ook sommer so voor die magistraat en... Hou vas, skenk geboorte aan tweelinge! Die drieling, wat ‘n paar varkies vermis, gaan kuier op die dorp en smyt Ollie se nuwe bakkie om. Hulle oorleef die ongeluk met geringe beserings, maar die bakkie is onherstelbaar. Afgeskryf!
Ollie staar bankrotskap in die gesig. Hy speel die lotto en wen. Die plaas word van ondergang gered en sy skuld is gedelg, maar hy het daarna nog steeds nie twee pennies oor om teen mekaar te vryf nie. Die bank keur sy aansoek om ‘n lening af en Ollie moet maar op die dorp gaan werk soek, want sonder kapitaal kan ‘n man nie boer nie. ‘n Prospekteerdertjie ontdek minerale op die plaas en ‘n bekende maatskappy bied Ollie ‘n aardige bedrag aan vir die stukkie grond. Net toe Ollie dink dat sy geluk besig is om te draai, tel die maatskappy probleme op met die goewerment en trek hul aanbod terug.
Og, bejammeringswaardig, sê ek julle! Die man spartel nog steeds om kop bo water te hou. En sy kinders… smaak my die ongeluk loop in die gene, want met die spulletjie gaan dit ook maar so moggetroffe. Skyt, skyt die bult uit!
No comments:
Post a Comment