My eerste storie op hierdie website, wil ek graag aan my ouma opdra.
My ouma is ‘n formidabele persoon. ‘n Vat-nie-kak tannie, gebore tydens die depressie jare en groot geword gedurende die tweede wêreld oorlog. Van armoede en swaarkry kan sy jou boekdele vertel. Oupagrootjie was ‘n boer, wat tydens die groot depressie van 1929 sy plaas verloor het en toe op die spoorweg begin werk het. Geld was min, maar hulle het nooit honger gaan slaap nie. Grootjie het altyd gesorg vir iets vir die pot, al was dit onwettig geskiet.
Verhale van hoe Oumagrootjie tydens donderstorms, alle spieëls in die huis toegemaak het met komberse, was daagliks aan ons vertel. Gedurende die oorlog moes alle kerse en “ligbronne” teen skemer gedoof word, vir ingeval vyandige oorlogsvliegtuie dalk mag aanval as hul ‘n liggie sien brand, of so iets. So het almal dan saam met die hoenders gaan slaap en vroegdag al opgestaan om die daaglikse take te hervat. Ouma sê, sy het saans skelm onder die katel, haar skoolwerk by kerslig gedoen. Met streng Christelike beginsels het sy groot geword, Sondae mag jy niks doen, nie eens ‘n knoop vaswerk nie. Anders steek jy die naald in die Here se oog! Familiewaardes. Kersfees was ‘n familie fees, waarop ooms, tannies, neefs en niggies bymekaar gekom het vir ‘n groot kuier. Alhoewel daar finansieel nie veel was nie, het elkeen gebring wat hy het. Stories van kattekwaad is met groot sensasie aan ons vertel en ook die kere wat hul, hul straf moes verduur. Oumagrootjie het hulle glo met ‘n garingdraadjie aan die tafelpoot vasgemaak, as straf. Bewaar hulle as die draadjie sou breek.
Ouma was vroeg uit die skool uit, want daar was nie geld om haar verder te laat leer nie. Maar dit het haar nie verhinder om haar eie verhale te skryf of om aan ons die werke van C.J. Langenhoven voor te lees nie. Ouma was lief vir lees en van haar gunsteling verhale, wat sy vir haar kinders en ook vir ons voorgelees het, was die van Brolloks en Bittergal. Haar hande staan vir niks verkeerd nie, behalwe hekel en brei. Oumagrootjie en grootgrootjie het haar die kuns probeer leer, maar haar vingers was te lomp. Ouma kan glo ‘n barshou skiet en so ook slaan. Daarvan kan ons almal getuig. As Ouma jou voeter, het sy dit behoorlik gedoen! Saam met Oupa het sy, in haar jonger dae, trekkers en motors herstel. Sy kon maklik, eiehandig, ‘n hele boerdery bestuur en twee kinders grootmaak.
Ja, Ouma Dorie, doen die van Van Helsdingen gestand. Vat-nie-kak mense, wat skrik vir niks!
No comments:
Post a Comment