Ons Eva’s geslag is erg gesteld op mooi fyn-goedjies. Daar is niks erger as ‘n buustelyfie of bloomer wat ongeskik sit nie. Die suggestiewe verleidingsvleisies wat bo uitpeul of onder die arms uitstulp is onteenseglik afsigtelik! Indien die “harnassie” te los om die borskas pas, kan die spulletjie onder uitsak en dan sit mêdem met ‘n knellende gedoente onder die oksels en twee sondaars met hul koppe na benede. Dis nou te sê, as jy my ouderdom is en swaartekrag al die oorhand gekry het.
So gebeur dit toe ook, dat ek na Nefie se oormaak sessie, tot die besef kom dat ek nuwe buustelyfies benodig. Die bestaandes in my onderklere laai is al gehawend en die tregterpunte is meer as 50 jaar al uit die mode, behalwe as jy nou ‘n popster is, natuurlik. Dit moes juis geskied tydens die naweek se kuier by die kinders. Hier in ons kontrei is daar nie winkelsentrums wat ‘n wye verskeidenheid van die goed aanhou nie. Soveel so, is Leila en Janneman saam om te verhoed dat Ouma dalkies verdwaal. En op my gryse ouderdom bestuur ek liefs nie in die stad nie, gans en al te gevaarlik...
Leila wys vir my die nuutste goedjies en teen die derde winkel is ek nog nie geholpe nie. Janneman begin ook al, soos enige man, kriewelrig raak. Ek kan nêrens iets vind wat by my portuur en postuur pas nie. Ek sou nooit kon dink, dat dit opsigself ‘n missie is, om die korrekte buustelyfie te koop nie. Die goete wat by my vereistes pas, is darem alte onaansienlik. Dit is krapperig, verkramp en sommer net onopvallend. Die ander, laat my weer na ‘n afgetrede prostituut of ‘n bejaarde nar in onderklere lyk. Ek kan my net indink wat Oompie se kommentaar op dié goedjies sal wees. Dit sal beslis my selfbeeld skaad en my huwelik ook. Dan is daar die ander goedjies waar jy die twee velle soos sokkies moet oprol en dan instop, en dan stoot dit die tweeling so hoog op dat die borsgleuf saamsmelt met my kalkoen nekkie. En die’s met die drade, is hoogs ongemaklik, maar die werklike probleem kom toe met Janneman se verveeldheid. Hy raak opslag onfatsoenlik gefassineerd met die buustelyfies vir dames wat geseën is met waatlemoene en boerpampoene...
Terwyl ek en Leila doenig is in die aanpaskamer, glip hy een van die super groot kontrepsies van die rak af en dink aan maniere hoe hy van die buustelyfie gebruik kan maak. Toe Leila haar verskyning maak, staan hy voor die aanpaskamer en gil “Ta-da!” terwyl hy ‘n koddige danspassie maak, met die ding oor sy kop gedrapeer. Leila se histeriese gelag laat my ook gaan kyk wat buite aangaan. Toe ek om die hoek loer, om te sien waaroor die kabaal gaan, skree die klein twak... “Kyk Ouma, dit pas oor my kop!” Leila is ook nie links nie en sy glip die ander helfte ook oor haar kop.. “Kyk Ouma ons is kop in een mus”, gil sy stuitig. En daar huppel die twee die hele winkel vol, kop-in-een-mus! “Ons is ‘n Siamese tweeling”, kondig hulle luidrugtig aan en almal in die winkel ruk omtrent hul nekke af om na die spektakel te kyk. Sommige skree soos hul lag en ander gluur hulle net kwaai aan. Binne enkele minute is die hele winkel in chaos gedompel.
Ek is rooi van verleentheid, want in my jonger dae was die goed nie eens aan ‘n wasgoed draad gehang nie. Vrouegoed was in daardie dae, amper heilig... mag nie gesien of van gehoor word nie. En hier hardloop die twee nasate van my in die openbaar rond, met ‘n enorme buustelyfie op hulle koppe!
‘n Nors, gesette sekuriteitswag kom op hulle af gestoomroller, keer hulle voor en maan hulle om nie die sentrum so te ontwrig nie. Hy steek sy hand uit om die “mus” by hulle af te neem, maar Janneman het ander planne. Hy meet en pas die man so op en af met die een oog en deel hom mee dat die een hom nie sal pas nie, daar is groter “sizes” op die rak wat beter geskik vir sy grote is. Die wag beginne opblaas soos ‘n brulpadda en ek sien hier kom ‘n helse ding!
“As julle nie die bra gaan koop nie, sit dit terug op die rak!”, bulder hy. Leilatjie antwoord snipperig terug, “jy kan ons nie maak dit terugsit as ons dit nog aanpas nie...” Die man blaas nóg ‘n bietjie op en plaas sy een hand op daai swart martel-stok in sy gordel, oorgehaal vir aksie. Hy staan en sis deur sy klein tandjies en die are in sy dik nek, swel. “Sit... dit... terug!” Janneman antwoord, “vang ons eers, dan sal ons dit terug sit”, en daar trek die twee ry op en ry af met die wag agterna. Die ou moet kort-kort stop om sy asem terug te kry en ek begin nou al bekommerd raak dat hy ‘n hartaanval of iets dergeliks gaan kry. Die twee dondertjies hardloop weer verby die rak buustelyfies en haak so in die verbygaan nog ‘n super-groot-nommer van die rak af. Hul beginne nou al die wag van agter af in hardloop. Toe die wag weer so half gebukkend staan en blaas, kom die twee van agter af verby en trek in die verbygaan die ander buustelyfie oor die wag se kop. Toe is die gort behoorlik gaar! Dit druis in die winkel asof ‘n swerm mal bye daar losgelaat is. Almal skater! Die gedruis kry nog ‘n klank by... loeiende sirenes...
Die kaskenades het ‘n lelike nadraai en die twee besef, hier's nou groot moeilikheid. “O wêreld! As hulle in ‘n vangwa gestop word, hoe gaan ek tuis kom?”, maal dit deur my gedagtes. Ek probeer agter hulle aan om te kyk of ek hulle tot hul sinne kan bring, maar teen die tweede ry af, staan ek saam met die wag en hyg. Teen die tyd wat die polisiemanne in die winkel is, is die twee sondebokke skoonveld. Die veiligheidswag beduie woes aan die polisiemanne, sy gesig bloedrooi met die buustelyfie steeds op sy kop. Die polisiemannetjies hou hulle mae vas soos hulle lag en die stomme wag kry nie ‘n woord uit onder sy gehyg en geblaas nie. Na sowat tien minute kom die man tot bedaring en vertel aan die geregsdienaars sy weergawe van die storie. Hulle huil soos hul lag, tot verleentheid van die wag. Foeitog, stomme man.
No comments:
Post a Comment