Nie daai soort koek nie! Sies, waaraan het julle gedink? Nee, die storie (‘n ware storie), handel oor ‘n ene Mev. van Schoor wat vir die bazaar tafel ‘n koek gebak het. Die antie kon nie bak om haar lewe te red nie, maar elkeen moes sy deel vir die kerk bazaar doen en sy het toe ongelukkig die koekbak lootjie getrek. As dit nog bedsokkies was, kon mens enige flaters misgekyk het, maar toe moes die lot op haar val om ‘n koek te bak...
Inplaas dat sy maar ‘n koek by die plaaslike tuisnywerheid loop koop, besluit sy om die koek self te bak. So volg die antie die resep tot op die T, maar iets loop verkeerd en die koek val ‘n moerse gat in. Reg in die middel. ‘n Yslike krater. Dis eintlik meer krater as koek! Omdat dit ure voor die bazaar is, is daar nie tyd vir nog ‘n koek bak nie. Sy besluit om maar die gat op te vul. Sy “toor” dit sommer reg met toilet papier, van alle dinge! Die koek word alte mooi versier, om die knoeiwerk in die middel te verbloem. Die idee was om die koek weer terug te koop en in die asblik te smyt, na afloop van die bazaar.
Deur die loop van die bazaar hou sy die koek met ‘n valkoog dop. Sy moet nou net haar kans afwag om dit terug te koop. Die antie is baie benoud dat iemand dit gaan koop en dalk nog benouder dat iemand gaan oplet dat sy haar eie koek terug koop. Later sluip sy soos ‘n wafferse dief na die koektafel (hoor julle die deuntjie van die Pink Panther speel?), en wil haar gedokterde koek terugkoop, maar die suster by die koektafel sê dat sus-en-so reeds ‘n opsie op die koek het. Sy het net gou haar beursie gaan haal. Mev. van Schoor bied toe dubbeld die koek se waarde aan, net om haarself die verleentheid te spaar. Maar omdat sy by ‘n ander bazaar tafel uithelp, moes sy noodgedwonge die koek daar laat. Ongelukkig, in die geharwar by die koektafel, neem iemand anders die koek. Dit kom sy eers agter toe sy die koek later die aand wou gaan haal. Die koek is skoonveld!
Niemand weet wie hom gekoop het nie. Sy moes maar haar trots in haar sak druk en vra dat Dominee afkondig, dat wie ook al die koek gekoop het, dit asseblief moes omruil vir ‘n ander koek. Almal wou opslag weet wat verkeerd is met die koek ter sprake, waarop Mev. van Schoor antwoord, “dis getoor!” Omdat die mense van die gemeente vrek bygelowig is, is die koek blitsvinnig terug besorg en arme Mev. van Schoor byna onder sensuur oor haar “getoor”. Jare later vra ek die antie waarom sy nou juis toiletpapier gebruik het. Daar is mos ander eetbare moontlikhede wat sy kon gebruik het. Haar antwoord, “my kjênd, mens dink mos nie daaraan om jouse gat met iets anders af te vee, as jy in die kak is nie!”
No comments:
Post a Comment