Ouma kan die lekkerste spookstories vertel. Ek kan onthou toe ons kinders nog klein was, het ons laat aand in die voorhuis gesit met ons kombersies en kussings om die ou Esse-voetstoof. Net die lig van die brandende hout om die vertrek te verlig. Lekker spokerig. Ouma sit in haar gunsteling leunstoel en teug aan ‘n sjerrie terwyl sy die stories een na die ander uitryg. Ons kinders sit grootoog en luister, elke spier styfgespan, soos ‘n snaar. Oorgehaal om enige tyd soos ‘n verskrikte kat in die lug op te spring! Wanneer die storie sy spanningspiek bereik, skree Oupa “Whaaaaah” en ons wip soos ons skrik. Dan vra Gertjie, “Ouma, vertel vir ons weer die storie van Verneukpan.” Met ons hartjies steeds kloppend in ons kele, luister ons kleingoed aandagtig na die stories van Verneukpan.
Spook stories in die distrik, is so volop soos die doringbossies wat daar groei, maar die spoke se bedrywighede is glo nog meer. Hulle, die spoke, was meestal mense wat verdwaal het en daar gesterf het. Maar ook ‘n mal jafel of twee, wat spoed rekords daar wou opstel en dan ook die spreekwoordelike “sandkooi” gaan klim het. Maar die storie wat my die meeste pla, is van die kind wat verdwaal het en so sy einde tegemoet gekom het. Mens sien snaakse goed op Verneukpan veral as die son die aarde lekker warm bak en die skimme oor die oppervlak dans.
En dan is daar nog die spoke van Putsonderwater... Ai, ek verlang nou sommer weer terug na my kleinwees dae!
No comments:
Post a Comment