Maar waar heen,
Gehasie? Wat gemaak met die diere? Jou meubels en die herinneringe wat jy agter
los? Waar gaan ons heen en waar gaan ons
weer nes skrop? Die vrae het my vir
nagte laat rond rol. Vir die kinders was
dit maklik, hulle kon weer elders ‘n werk kry, huis koop en weer oor
begin. Vir my en Oompie het dit gevoel
of ons wêreld in duie gestort het. Nee
wat, dit was so goed of hulle het ons trek lorrie en al lang bome toe gery. Party dae het dit ook vir ons gevoel dat dit
dalk beter sou wees as die twee van ons net sou kon omval, bene in die lug...
Kyk, vir my gaan
hulle nie somer in ‘n aftree oord inboek en verwag ek moet daar inpas, as ek my
lewe lank veld en vlaktes om my gehad het nie.
Daardie mure sal my versmoor en ek kan my honde en katte nie saam neem
nie. Ek dink dit was vir my die grootste
terugslag. Die feit dat ek van my hanslammers
moes laat slag of aan ander moes verkoop.
My vrugteboorde, waarvan daar nou niks oor is nie, die opstal wat hulle
alles van gestroop het... Net die mure staan nog. Binne ‘n kwessie van ‘n jaar, het die spog
plaas verval tot niks! En wat my nog
verder dwars in die krop steek, is dat Jantjie en Sarah ook van die plaas
verwilder is. As daar mense is wat wel
die grond kon eis, was dit die Khoi-San en nie die Xhosa of ander stamme nie. Maar ja, wie is ons om dit te betwis? Die hof het klaar beslis...
So begin ons
soektog na ‘n eie plekkie waar my diertjies ook welkom is en waar ons tenminste
naby die kinders en die ander familie is.
Maar toe kom die volgende skok!
Die staat betaal nie. Ons wag....
Ons bel... Ons baklei... Maar daar’s nie geld nie. Nou vra ek jou met trane in my grou oë, hoe
moet ons ‘n begin maak as ons van onse grond af gesit is en daar is nie ‘n dooie
duit om ‘n ander heenkome te bekostig nie?
Die bank-man trek net sy ou maer skouertjies op...
Twee ou swerwers
en ‘n swetterjoel troeteldiere. Dan bly
ons ‘n rukkie by die een en dan swerf ons daarheen. Tot my oudste, Pieterjan, met behulp van familielede
en barmhartige Samaritane ‘n ruim woonstelletjie in sy agterplaas ingerig
het. Ek was aan die begin baie skepties,
want dit sou beteken dat ons nie net van woning verhuis nie, maar van provinsie
ook.
Maar tog het ek
op die ou end berusting gevind, al is ek nou nie meer Tant’ Gedorie van
Putsonderwater nie, sal my hart en siel altyd deel van daardie geweste bly...
No comments:
Post a Comment