Bydraes

Julle kan nou ook jul eie bydraes plaas onder LESERS BYDRAES of somer net KLETS...
LET WEL: Alle bydraes in Afrikaans, asseblief!

Wednesday, July 2, 2014

Oompie en die Verkeersman

Omdat ons albei nou al tussen ‘n honderd en vrot is, wil die liksens kantoor
nou nie meer ons bestuurskaartjies hernu nie.  En met die ouderdom saam, raak ou mans mos knorrig en ongepoets hier na ‘n sekere ouderdom, ek dink dit het dalk tedoen met swaartekrag wat rem aan sekere dele van die anatomie.  Maar nou ja, om ‘n lang storie kort te maak... So ry ek en Oompie toe mos laas week per bus Nelspruit toe...


Met die terug kom sit ons sit langs ‘n vriendelike jong man,
en oom vertel vir hom hoe lekker dit vir hom is om oud te wees.

"Is die lewe nog opwindend oom?" vra die jong man.
"Maar natuurlik, Boet. Vat nou maar Dinsdagoggend.
Ek en die ouvrou gaan eet ontbyt en loop in die Riverside Mall rond.
Toe ek uitkom staan daar 'n verkeersman 'n boete en uitskryf.

Ek stap na hom toe en se: Is jy mal in jou kop?...
Hoe kan jy vir 'n ou man 'n boete uitskryf?"
Die verkeersman vererg hom en skryf sommer ook 'n boete
uit vir die chip in die voorruit.

Ek skree op hom:" Is jy nou heeltemal besimpeld?"
Toe skryf hy 'n boete uit omdat die lisensie verval het.
Ek skree weer: "dis nou tipies wat mens van jou soort kan verwag!
Jy gee nie eers om vir ander mense nie."
Toe skryf hy 'n boete vir die bande wat te glad is en teen hierdie tyd
is hy al rooiwarm kwaad vir my.

Hy druk sy vinger teen my bors en sis deur sy tande:
"en jy meneer, is in elk geval te oud om te bestuur."

En toe se ek: "wel daar stem ek met jou saam."
Net toe kom ons bus en ek die ouvrou klim in.
Jy moes die verkeersman se gesig sien...

Friday, May 3, 2013

Vat jou goed en trek.... Van Helsdingen

Die antie se bek is so effe dik die afgelope paar weke. Nee, dis nie iets wat een van julle gedoen het nie, ek is meer teleurgesteld in myself as enige iets anders...

Vir die van julle wat die storie gemis het, Tante het mos vanaf die plasie in die Noord Kaap verhuis na Rustenburg in die wilde Noord Weste. Die staat het onse grondjies gevat en daar's storie op storie waarom ons nog nie vergoed is nie. Pieterjan moes noodgedwonge werk by 'n myn aanvaar, om vir die familie te sorg. En met die, spat die hele familie uiteen. Leilatjie moes haar studies opskop en pas nou ryk bedorwe brokkies op, anderkant die groot waters. Janneman dobber iewers op die oseaan rond en boor vir olie. Ses maande op vaste grond, ses maande op die water. Nefie... oor hom wil ek nie nou praat nie, my hart is nog te seer. Die enigstes wat nog kop bo water hou, is Klein Dorie en haar gesin. Genadiglik het sy en haar wederhelf nie ook kom boer nie en die het nog 'n vaste werk.

Om 'n lang storie kort te maak. Na die onmin op Lonmin en die marakkas met die mynstakings, is van die kontakwerkers se kontrakte nie weer hernu nie. Met die gevolg, Pieterjan het sy werk verloor. Kyk, dan sien mens mos gewoonlik goed wat daar nie is nie. En soos 'n wafferse doemprofeet, sien jy al die ergste, in sulke reuse reklameborde... "WIT PLAKKERSKAMP, ARMOEDE, HONGERSNOOD, ELLENDE", flits dit hier voor jou geestesoog! Maar met genade het my seun weer werk gekry, op 'n plaas as voorman van alle dinge. Ek het gereken ek sal selfs gaan appels pak in die Wes Kaap as dit moet. Ek het gehoor hulle neem nou blankes in diens omdat die volk nie wil werk vir 'n minimum loon van R100 per uur nie. Die vrugteboere is in hul m... ag ek meen, geruïneer!

So luister ek toe ook net met 'n halwe oor. Al wat ek hoor is plaas en Kaap en ek is so opgewonde, want ons trek weer terug Kaap toe. Dit maak nie saak of dit Noord-, Suid-, Oos- of Wes Kaap is nie... Solank dit net Kaap is, dan is die Kaap mos weer Hollands... Of hoe? Maar soos ek sê, ek het weer net gehoor wat ek wil hoor. Pieterjan het gesê hy het werk gekry as 'n voorman op 'n plaas naby Kaapsehoop. Ek hoor, Kaap de goede hoop! Al wat ek dink en sien is ooptes, geen mure en geboue wat my gaan vaskeer nie. Man, ek staal myself vir die lang pad, terug Kaap toe. Twee dae op die pad, 1508 kilometer vêr. Diertjies (en Oompie) moet gedoepa word vir die lang tog, dat hulle nou nie moeilik raak nie. Als word haarfyn beplan vir die uittog uit Egipte na die land van melk, heuning en vars lug. Daar was nog nooit vir my rus in Rustenburg nie. Ek het nie met die plaaslike inwoners oor die weg gekom nie, nog minder het ek hul taal en kultuur verstaan.

Nou ja, die trek is gepak, lorrie gelaai en daar gaan ons. Ses ure later en baie stilhou is ons by ons bestemming. Nou hoe nou? Het ek iewers die tyd verkeerd bereken. Dit lyk amper soos die Kaap, maar dit kan nie die Kaap wees nie. Het die rit nou in my seniliteit korter geword? Oral langs die pad is daar waarskuwings borde wat sê dat jy moet pasop vir perde wat oor die pad hardloop. Nee man! Perde? Nie bokke nie! Perde! En 'n bordjie wat in Ingels lees, die pad gaterig is en dat jy jou winkeltande moet uithaal... Of iets dergeliks. Mense, dis mooi. Dis asem asembenemend mooi! 'n Skouspel van woude afgewissel met grasvlaktes en berge. Berge, wonderskone berge! Maar toe moes ek hoor, dis nie die Kaap die nie. Dis Mpumalanga! Hoekom het niemand my van die begin af reggehelp nie? Ek is sommer bek-af en bedonderd. Ek het dan vir almal wat ore het loop en vertel ons gaan Kaap toe... En ek? Ek voel nou soos 'n totale poe... Ag ek meen, pampoen!

Wednesday, December 19, 2012

Kerstyd

Met die dat die plaas se geld nou nog nie deur die regering uitbetaal is nie, ry ons maar die jaar met Jan Tuisbly se karretjie.

Ons sou so graag by familie wou deurbring, maar helaas... daar gaan nie die nodige fondse daarvoor wees nie. So gepraat van geld, smaak vir my, jy moet deesdae 'n stewige bankbalans of baie skuld maak om mense oor die feesgety gelukkig te hou. Nie dat dit enige iemand in dié familie pla nie! Ons het nog nooit skuld aangegaan wanneer dit kom by Kersfees nie. Maar as 'n mens so kyk na die TV advertensies voel dit vir mens of jy basies deur die samelewing verplig word om jou swaar verdiende geldjies op allerhande onbenullighede te spandeer terwille van die "gees van gee". En dan is daar soveel mensies daar buite wat niks het nie en dankbaar is vir dit wat hulle kry, al is dit net 'n ou lekkertjie.

Waar was die dae, toe kersgeskenke iets was, wat uit jou hart en met liefde aan iemand gegee is? Gewoonlik ietsie kleins, dis mos immers die gebaar wat tel en nie die prys etiket nie. Ek kan met deernis onthou hoe my ouma en oupa handgemaakte speelgoed aan ons kleinkinders gegee het. Ouma en Oupa het dit ook maar nie breed gehad nie. Inteendeel, alle kersgeskenke was handgemaak, of sommer keurig verpakte lekkernye. Kerstyd in die van Helsdingen en Potgieter families gaan nie oor gee nie. Vir ons gaan dit oor samesyn en gesellig wees saam met familie en vriende. Daar's nie sulke goed soos reuse versierde kersbome of uitspattighede nie, maar daar is warmte en die tafels het altyd gekreun onder die kos.

Wat is jul gunsteling herinneringe aan Kersfees?